National Off-Road Workgroup Advertisement
Home arrow Communication arrow Industry Communication arrow Voorstelle vir selfregulering
Tuesday, 06 January 2009
 
 
Voorstelle vir selfregulering Print E-mail
Written by Liesl Roodt, Die Burger   
Tuesday, 01 November 2005

VIERTREK GEMEENSKAP 'KAN VERANTWOORDELIK OPTREE'

Voorstelle vir selfregulering bespreek

As uitvloeisel van ’n ulitmatum wat deur die minister van omgewingsake en toerisme aan die viertrek-gemeenskap gestel is dat dié gemeenskap maniere moet vind om homself te reguleer, het 62 verteenwoordigers van 18-20 Oktober die Nasionale Veldrywerksessie buite George bygewoon. Hieronder was vyf verteenwoordigers van die regering.

Ses maande gelede was die opdrag van mnr. Marthinus van Schalkwyk dat die viertrek-gemeenskap “sy huis in ordemoet kry”, en as “die viertrek-gemeenskap nie binne ses maande met konkrete voorstelle vorendag kom oor hoe om die negatiewe impak van viertrek-aktiwiteite op die omgewing te verminder nie, sal die regering eensydig stappe doen”.

“Die samekoms wat in die Langkloof plaasgevind het, kan met reg as ’n historiese en epogmakende samekoms beskou word. Nie net is dit die eerste vir die Afrika-vasteland nie, maar van die weinige in die wêreld waar op sinvolle wyse besin is oor die rigting en toekoms van veldry,” het mnr. Jan Joubert, sameroeper van die komitee wat die werksessie gereël het, gesê.

“Die uitwerking hiervan sal in alle waarskynlikheid ’n groot positiewe uitwerking op die natuur hê en buurlande sal moet volg.”

Volgens Joubert was die idee met die werksessie om ’n “wen-wen-situasie te bewerkstellig in plaas daarvan om mekaar te konfronteer, en daar is daarin geslaag om die fondament van goeie samewerking en verhoudings met die staat sowel as nie-regeringsorganisasies te lê.”

Hy het gesê daar is tans tussen 550 000 en 600 000 viertrekvoertuie in Suid-Afrika,waarvanwaarskynlik net 25% of sowat 150 000 ooit in die veld sal kom. Volgens hom is daar nietemin altyd die moontlikheid dat iemand wat aanvanklik sy voertuig gekoop het om op die teerpad te ry, ná vier of vyf jaar kan besluit om die veld aan te durf. En dit is waar die probleme dikwels begin, het hy gesê. Daarom is voorgestel dat enigiemand wat voortaan ’n viertrekvoertuig koop, eersmoet bewys dat hy ’n opleidingskursus ondergaan het.

By opleiding sal die klem val op “vaardigheid, eko-sensitiwiteit en verantwoordelikheid in die veld”. Opleiding sal derhalwe gestandaardiseer word en opleidingsbeamptes sal aan bepaalde vereistes moet voldoen. Beskik ’n viertrek-eienaar nie oor ’n opleidingsertifikaat nie, is die voorstel dat so ’n persoon nie op enige van Suid-Afrika se 400 tot 500 roetes toegelaat sal word nie.

Nog ’n voorstel vir regulering is volgens Joubert die aanstel van ’n veldry-ombudsman in elke provinsie. Dit sal waarskynlik ’n senior prokureur, advokaat of afgetrede regter wees, wat ook self ’n viertrek-eienaar is en in die veld ry. So ’n persoon sal nie enige sanksies kan afdwing nie, maar die moontlikheid bestaan dat ’n oortreder op ’n nasionale swartlys geplaas kan word en nêrens op enige roete toegelaat sal word nie. Hopelik sal dié stap so ver gevoer kan word dat ook die roetes en nasionale parke van Suid-Afrika se buurlande vir so iemand gesluit sal word.

Dit bring mens by ’n ander probleem, naamlik die verhuring van viertrekvoertuie deur Suid-Afrikaanse maatskappye aan toeriste wat plaaslik of in Suid-Afrika se buurlande gaan rondry. Die voorstel is dat ook mense wat voertuie huur, moet kan bewys dat hulle oor basiese kennis en vaardighede beskik. Opleidingsvereistes moet ook aan hulle gestel word.

Ook by die werksessie teenwoordig was die vierwielmotorfietsbedryf. Voorstelle vir dié bedryf sluit in dat die onbeperkte gebruik van vierwiel-motorfietse gestaak word. Die aanbevelings is dat vierwiel-motorfietse voortaan geregistreer en van nommerplate voorsien sal word, sodat eienaars verantwoordelik gehou kan word vir hul optrede. Bestuurders sal ’n lisensie moet hê en te alle tye ’n valhelm moet dra, terwyl opleiding verpligtend kan wees.

Volgens Joubert is die volgende stap om die sukses van die werksessie verder te voer en besluite in werking te stel. Aan die einde van die werksessie was die afvaardiging van die regering tevrede dat aan die vereistes van die minister se ultimatum voldoen word en dat die viertrek-gemeenskap met konkrete voorstelle vorendag gekomhet vir selfregulering. Geen verdere optrede sal dus nou deur die regering geneem word nie.

’n Nuwe werkgroep wat uit verteenwoordigers van die bedryf bestaan, is gekies om die leisels oor te neem en uiteindelik ’n strategie op die minister se tafel te lê. Hulle sal saamwerk met me. Lize Bothma, wat deur die minister as verteenwoordiger van die departement van omgewingsake en toerisme aangewys is ommet die komitee te skakel.Hierna sal die strategie vir openbare terugvoer beskikbaar gestel word, voordat die minister dit finaal sal bekragtig.

Volgens Joubert is dit jammer dat ’n klein groepie mense hierdie ultimatum genoodsaak het, maar die bedryf het die geleentheid gekry om te wys dat hy verantwoordelik kan optree en homself reguleer.

Besoek gerus http://www.now.org.za/ om op hoogte van ontwikkelings te bly.

 
Top! Top!