|
Contributed by Mike Eaton
|
|
Thursday, 07 April 2005 |
|
Page 2 of 2
April 2005 Geen beperking
Media navraag; 084 35 12340 Nasionale Buitebaan Werkswinkel (NBW), George, 18 tot 21 Oktober, 2005
ʼn Nasionale werkswinkel met die doel om nouer samewerking tussen die buitebaan industrie, regeringsinstansies en privaat bewaringsinstansies te bewerkstellig, word in die vooruitsig gestel.
Dit is algemene kennis dat verhoudinge in die bedryf met die Staat versleg het sedert oud- Min. Vali Moosa se sluiting van strande vir buitebaan voertuie. Vroeër vanjaar is dit ook in die pers beweer dat segsmanne van die Ministerie Omgewingsake en Toerisme verdere stappe beoog om buitebaanvoertuie se gebruik verder te beperk. Dit is ook ʼn frustrerende proses om die gesagsliggame en bewaringsinstansies so vêr te kry ter uitvoering van omgewingsimpakstudies op 4x4 roetes soos deur die wet vereis word. Die buitebaanbedryf beskik terselfdertyd oor geen verenigde standpunt nie en slaag nie daarin om self-dissipline af te dwing in eie geledere nie. Dit gee weer aanleiding tot verdere optrede deur die Staat. Die klagtes vanuit buurlande oor die optrede van Suid Afrikaners, kan nie langer geïgnoreer word nie.
Dit word deeglik begryp dat hierdie onverkwiklike situasie tot niemand se voordeel is nie, veral nie ons pragtige natuur nie. Daar word dus ʼn nasionale werkswinkel belê, in samewerking met die Ministerie vir O&T, die industrie asook nie-regeringsorganisasies met die doel om:
- Eenparigheid te weë in die buitebaanbedryf te bring: ʼn Liggaam in ʼn vorm, waaroor besluit moet word, te skep waarin die bedryf verteenwoordig word. Hierdie liggaam moet die bedryf se belange beskerm en bevorder, maar ook selfdissipline in die bedryf kan afdwing.
- Om effektiewe wetgewing te weë te bring wat prakties toepasbaar is.
- Om die verskillende afdelings of belangegroepe in die bedryf aan te moedig om voor die plaasvind van die nasionale werkswinkel, te organiseer en met eensgesinde standpunte na die werkswinkel te kom.
- Die einddoel is die opstel van ʼn gesamentlike besluit wat aan die Minister voorgelê word met die doel om te dien as Witskrif vir die regering.
Sommige segmente van die bedryf is alreeds goed georganiseer, maar ongelukkig in die minderheid. Die verskillende segmente van die bedryf word aangemoedig om dringend aandag te skenk aan die organisering van verteenwoordigende liggame asook eensgesinde standpunte.
Die buitebaanbedryf het die afgelope dekade reusagtig gegroei met ʼn geskatte 500 000 of meer 4x4 voertuie in privaatbesit. Die industrie is goed gediversifiseer vanaf vierwielfietse tot die vervaardiging van die beste kampeer-en 4x4 toerusting ter wêreld. Die finansiële impak op gebiede van lae inkomste, buurlande ingesluit, is van belang en steeds ʼn regverdige wyse om kapitaal van hoë inkomstegebiede oor te dra na gebiede van lae ekonomiese bedrywighede.
Mnr. Jan Joubert, natuurbewaarder, outeur en pionier 4x4-kundige dien as sameroeper om die proses van die grond af te kry. Kommentaar en inligting kan ook op hierdie webtuiste se forum gelewer word.
|